Gaan na inhoud

CANDU-reaktor

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Skematiese diagram van 'n CANDU-reaktor: Die primêre kringloop word in geel en oranje aangedui, die sekondêre in blou en rooi. Die swaar water in die calandria of reaktorkern word in pienk aangedui, saam met die stawe wat gedeeltelik ingesit is en as uitskakelaars dien.
Sleutel
1 Brandstofbundel 8 Brandstoftoevoer-enjins
2 Calandria (reaktorkern) 9 Swaar water as neutronemoderator
3 Aanpassingsstawe 10 Drukpyp
4 Swaar waterdrukpoel 11 Stoom wat na die stoomturbines gevoer word
5 Stoomopwekker 12 Koue water wat uit die turbine terugstroom
6 Lig water-pomp 13 Die reaktor se omhulsel van versterkte beton
7 Swaar water-pomp

Die CANDU-reaktor is 'n Kanadees-ontwerpte drukwaterreaktor wat in kernaanlegte vir kragopwekking uit kernbrandstof gebruik word.

Die akroniem CANDU ("CANada Deuterium Uranium") is 'n handelsmerk van Atomic Energy of Canada Limited (AECL) en verwys reeds na die reaktortipe wat swaar water (deuteriumoksied, D2O) vir verkoeling en moderasie en natuurlike uraan as brandstof gebruik.

CANDU-reaktors is oorspronklik in die laat 1950's en 1960's deur 'n vennootskap tussen AECL, die Hydro-Electric Power Commission of Ontario (tans Ontario Power Generation), die Kanadese filiaal van General Electric (tans GE Canada) en ander private ondernemings ontwikkel. Tans maak alle Kanadese kernaanlegte gebruik van hierdie reaktortipe wat ook internasionaal bemark word.

CANDU-reaktors is drukpypreaktors wat in tegniese opsig maklik opgerig kan word en sodoende as uiters geskik vir nuut geïndustrialiseerde en ontwikkelende lande beskou word. Nogtans hou hierdie reaktors ook 'n gevaar in - die moontlike verspreiding van kernwapens: CANDU-reaktors kan maklik ingespan word om plutonium vir wapendoeleindes te ontgin.