Dares die Frigiër

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Dares die Frigiër (Grieks: Δάρης) was volgens Homeros[1] 'n Trojaanse priester van Hephaestus. Daar is later gedink dat hy die skrywer was van 'n verslag van die vernietiging van Troje.[2] 'n Werk in Latyn wat voorgee om 'n vertaling hiervan te wees, getiteld Daretis Phrygii de excidio Troiae historia, is baie gelees in die Middeleeue, en is toegeskryf aan Cornelius Nepos, wat dit opgedra het aan Sallust. Die taal daarvan stem egter ooreen met 'n tydperk veel later as die tyd van Nepos (waarskynlik die 5de eeu n.C.).

Dit is onbekend of die bestaande werk 'n verkorting van 'n groter Latynse werk of 'n verwerking van 'n Griekse oorspronklike is. Saam met 'n soortgelyke werk deur Dictys Cretensis (dit word gewoonlik saam gedruk), is die De excidio die hoofbron vir die talle Middeleeuse verslae van die Trojaanse legende, die sogenaamde Matière de Rome (Afrikaans: Saak van Rome. Volgens die Middeleeuse digter Jean Bodel is die Saak van Rome 'n literêre siklus van die Griekse en Romeinse mitologie, tesame met episodes uit die geskiedenis van die klassieke oudheid, en fokus dit op militêre helde soos Alexander die Grote en Julius Caesar). Dares het beweer dat 866 000 Grieke en 676 000 Trojane in hierdie oorlog dood is, maar argeologie het niks ontbloot wat daarop dui dat 'n oorlog van die skaal ooit op daardie terrein geveg is nie.[3]

Die werk was 'n belangrike bron vir Josef van Exeter se De bello Troiano.[4] Dit is in die 8ste eeu in Merovingiese Gallië volledig verwerk tot die Historia de origine Francorum (Geskiedenis van die oorsprong van die Franke), wat beweer dat die Franke van die Trojane afstam. Die werk word aan Dares toegeskryf.[5]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Homeros. Ilias, 5.9, 5.27.
  2. Claudius Aelianus. Var. Hist. Xl, 2.
  3. White, Matthew (2012). Atrocities: the 100 Deadliest Episodes in Human History. New York: W. W. Norton. p. 556. ISBN 978-0-393-34523-0.
  4. Rigg, A. G. "Joseph of Exeter: Iliad". Centre for Medieval Studies. Besoek op 1 November 2013.
  5. Nurgül Kıvılcım Yavuz, Transmission and Adaptation of the Trojan Narrative in Frankish History between the Sixth and Tenth Centuries, PhD dissertasie (Universiteit van Leeds, 2015), pp. 182–187.

Bronne[wysig | wysig bron]

  • (fr) Louis Faivre d'Arcier, Histoire et géographie d’un mythe. La circulation des manuscrits du De excidio Troiae de Darès le Phrygien (VIIIe-XVe s.), Parys, 2006 (ISBN 2-900791-79-0).
  • (de) Andreas Beschorner, Untersuchungen zu Dares Phrygius-Narr, Tübingen, 1992 (ISBN 3-8233-4863-9).

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]