David de Lange

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
David de Lange

David de Lange (1905 – 1946) was een van die vroegste populêre Afrikaanse musiekkunstenaars in die 1930s en 1940s. Hy was ‘n sanger, ‘n liedjieskrywer, leier van een van die era se grootste dansorkeste en ‘n musikale innoveerder en pionier wat die klank van Afrikaanse populêre musiek help vorm het. De Lange se plate het in die omgewing van ‘n miljoen eksemplare verkoop. (Dit sluit in meer as 200 000 eksemplare van sy grootste treffer, Suikerbossie).[1]

Lewensloop[wysig | wysig bron]

David de Lange is gebore in die Oos-Kaap en het saam met sy ouers verhuis na die Transvaal. Hy het reeds skool na St. 6 verlaat en het as ‘n mynwerker in Johannesburg gewerk. Hy was aktief as orkesleier en sanger van die middel 1930s. Sy bekendheid het toegeneem toe Gallo Records plate opgeneem het wat besonder gewild was onder die Afrikaanse werkersklas.[2]

In 1936 het de Lange met Willie Welgens saamgespan om "Roosterkoek" ‘n 78 opm-album te vervaardig. Hierdie album het uiteindelik meer as 250 000 kopieë verkoop, 'n rekord vir daardie dae. Die rede vir hierdie wegholsukses was die geweldige gewildheid van "Suikerbossie" wat op die ander kant verskyn het. Hierdie opname was ook die eerste keer dat die banjospeler George Abrahams (Gamza Karriem) saam met de Lange sou werk.[3] Kariem/Abrahamse het tot sy dood saam met De Lange gespeel en selfs sy huis gedeel.[4]

De Lange is ook beïnvloed deur die Dixieland-musiek wat deur swart musikante in New Orleans vervaardig is. Sy Waar is Bettie is ’n weergawe van die Original Dixieland Jazz Band se 1917-liedjie, Tiger Rag.[5] Hy het eers die orkes die Vastrappers en later die Naglopers gelei.[6]

Sy lirieke en lewenswyse het die konserwatiewe kultuur en politieke gesagsorde van die dag aanstoot gegee en stappe was geneem om sy blootstelling aan die publiek te beperk. Hy het byvoorbeeld gedurende sy lewe, en selfs na sy dood, nooit lugtyd op die staatsbeheerde SAUK gekry nie.[7] De Lange het keer op keer probeer om lugtyd te kry en is telkens deur een van die hekwagters, Anton Hartman, verwerp. Want hy was ‘n omstrede figuur, ‘n rebel wat volgens die reëls van ‘n vroeë weergawe van “sex, drugs and rock n’ roll”. Sy lirieke het ook gegaan oor partytjies, dronk word, meisies en goeie tye, wat alles aanstootlik was vir die destydse konserwatiewe instelling van die SAUK radio. Om alles te kroon, het hy 'n Kaapse banjospeler, Gamza Kariem, gewerf en hom gelok om in Johannesburg te bly, waar hy gevestig was. Dit het onaanvaarbaar geword vir musikante om oor die kleurgrens te speel, so De Lange en Kariem het 'n plan gemaak - Kariem het 'n Jood geword met die naam George Abrahamse (sy ouma se van).[8]

Sy vroeë afsterwe op die ouderdom van 42 aan alkohol-verwante oorsake in 1946 en die gesagsorde afkeur het beslis ‘n rol gespeel, dat David de Lange gou ‘n vergete figuur geword het.[9]

Herlewing van sy musiek[wysig | wysig bron]

Joernalis en skrywer, Rian Malan, het in 2005 begin met navorsing oor David de Lange. Radio Kalahari Orkes se fondasie is geskoei op die navorsing. Die groep het ook meer genres betrek in hul klank gebasseer op die navorsing.[10]

Rian Malan se Die Nagloper, een van die produksies in 2008 se Aardklop Kunstefees, was ‘n donker komedie, gebaseer op die verhaal van David de Lange. Ian Roberts het die rol as van David de Lange gespeel. Elton Landrew speel George Abrahams (Gamza Karriem). Die ander twee karakters, Jan de Wet, (Brian Webber), en Daisy, (Nicola Hanekom) is fiktiewe karakters wat Rian geskep het om die gehoor meer van David en sy roekelose, wilde lewe te vertel.[11]

Volgens Rian Malan waag hy in die Nagloper om te skryf oor iets waaroor gewoonlik nie veel gepraat word nie: “In die teks word verwys na die gaping wat daar in die wit Afrikaner gemeenskap bestaan het tussen die “ordentlike mense”, die hoog opgeleide en geestelik gevorderde mense en die gewone ou wat net wou gekskeer, hard werk en dop steek.”[12]

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. Bandvamp, 26 Januarie 2019, David de Lange. https://daviddelange.bandcamp.com/album/sy-legendariese-opnames-1937-1941. Besoek op 3 Mei 2024.
  2. RSG Podsending. Onderhoud met Carsten Rasch oor “Boeremusiek-superster David de Lange”, https://www.rsg.co.za/rsg/omny/boeremusiek-superster-david-de-lange/ Besoek 3 Mei 2024.
  3. Jan Tak, David de Lange – Suikerbossie. YouTube. https://www.youtube.com/watch?v=eJsvtL2r1Qo&ab_channel=JanTak. Besoek op 3 Mei 2024.
  4. Carsten Rasch, 8 Maart 2024. Ontdek 'n vergete musikale genie. Vrye Weekblad, https://www.vryeweekblad.com/en/opinions-and-debate/2024-03-08-discovering-a-forgotten-musical-genius/ Besoek op 3 Mei 2024.
  5. Carsten Rasch, 8 Maart 2024. Ontdek 'n vergete musikale genie. Vrye Weekblad, https://www.vryeweekblad.com/en/opinions-and-debate/2024-03-08-discovering-a-forgotten-musical-genius/ Besoek op 3 Mei 2024.
  6. RSG Podsending. Onderhoud met Carsten Rasch oor “Boeremusiek-superster David de Lange”, https://www.rsg.co.za/rsg/omny/boeremusiek-superster-david-de-lange/ Besoek 3 Mei 2024.
  7. Bandvamp, 26 Januarie 2019, David de Lange. https://daviddelange.bandcamp.com/album/sy-legendariese-opnames-1937-1941 . Besoek op 3 Mei 2024.
  8. Carsten Rasch, 8 Maart 2024. Ontdek 'n vergete musikale genie. Vrye Weekblad, https://www.vryeweekblad.com/en/opinions-and-debate/2024-03-08-discovering-a-forgotten-musical-genius/ Besoek op 3 Mei 2024.
  9. Bandvamp, 26 Januarie 2019, David de Lange. https://daviddelange.bandcamp.com/album/sy-legendariese-opnames-1937-1941. Besoek op 3 Mei 2024.
  10. Bandvamp, 26 Januarie 2019, David de Lange. https://daviddelange.bandcamp.com/album/sy-legendariese-opnames-1937-1941. Besoek op 3 Mei 2024.
  11. Roekeloos, 13/07/2008. Wie was David de Lange? https://www.roekeloos.co.za/musiek/wie-was-david-de-lange/ Besoek 3 Mei 2024.
  12. Roekeloos, 13/07/2008. Wie was David de Lange? https://www.roekeloos.co.za/musiek/wie-was-david-de-lange/ Besoek 3 Mei 2024.