Tereus

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Rubens: Tereus Gekonfronteer met die Hoof van sy Seun Itys, 1636–38

In die Griekse mitologie was Tereus (Oudgrieks: Τηρεύς) 'n Thraciese koning,[1][2] en die seun van Ares en Bistonis. Hy was die broer van Dryas. Tereus was die man van die Atheense prinses Procne, en die vader van Itus.

Mitologie[wysig | wysig bron]

Toe Tereus sy vrou se suster Philomela begeer het hy na Athene gereis en sy skoonpa Pandion besoek om te vra of hy met sy ander dogter in die huwelik mag tree, en verduidelik dat Procne dood is. Pandion het hom die guns bewys en Philomela, saam met haar wagte, gestuur. Maar Tereus het die wagte in die see gegooi en Philomela op 'n berg gekry en haar verkrag. Hy het hierna haar tong uitgesny en haar gevange gehou sodat sy dit nooit vir iemand kon vertel nie. Nadat hy na Thracië teruggekeer het, het Tereus Philomela aan koning Lynceus gegee en vir sy vrou vertel dat haar suster gesterf het. Philomela het briewe in 'n tapisserie geweef wat Tereus se misdaad uitbeeld, en dit in die geheim aan Procne gestuur. Lynceus se vrou Lathusa, wat 'n vriendin van Procne was, het dadelik die byvrou (Philomela) na haar toe laat stuur.

Toe Procne haar suster herken en van Tereus se goddelose daad te hore kom, het die twee beplan om wraak te neem teen die koning. Intussen is dit aan Tereus geopenbaar dat die dood van Itys deur die hand van 'n familielid gaan gebeur. Toe hy dit hoor en vermoed dat sy broer Dryas besig is om sy seun se dood te beplan, het hy die onskuldige man vermoor. Procne het egter haar seun Itys vermoor, sy vlees bedien aan sy vader, en saam met haar suster gevlug.

Toe Tereus verneem wat sy gedoen het, het hy die susters agternagesit en probeer om hulle te dood, maar al drie is deur die Olimpiese gode uit jammerte in voëls verander: Tereus het in 'n hoephoep verander, Procne het 'n swaeltjie geword wie se lied 'n roulied is oor die verlies van haar kind, en Philomela het in 'n nagtegaal verander. Die vroulike nagtegaal het terloops geen lied nie. (Hyginus, Verhale, 45).

'n Soortgelyke verhaal is vertel oor Polytechnus.

Ander gebruike[wysig | wysig bron]

Tereus was 'n gewilde naam onder die Thraciërs.[1]

Die Atheense dramaturge Sophokles en Philokles het albei toneelstukke met die titel Tereus geskryf oor die verhaal van Tereus.[3]

Shakespeare verwys na Tereus in Titus Andronicus, nadat Chiron and Demetrius vir Lavinië verkrag het en haar tong uitgesny het en ook albei haar hande. Hy verwys ook na Tereus in Cymbeline, wanneer Iachimo spioeneer op die slapende Imogen om vervalste getuienis bymekaar te maak sodat hy Posthumus kan oortuig dat sy hom verlei het.

Die getransformeerdse Tereus is 'n karakter in Die Voëls deur Aristofanes.

Moderne verwerkings[wysig | wysig bron]

  • The Love of the Nightingale, toneelstuk deur Timberlake Wertenbaker.
  • The Love of the Nightingale, 'n opera deur die komponis Richard Mills, ná 'n libretto uit bogenoemde toneelstuk.

Verwysings[wysig | wysig bron]

  1. 1,0 1,1 Thukydides: Geskiedenis van die Peloponnesiese Oorlog, Boek 2:29
  2. Apollodorus 3.14.8
  3. March, J. (2000). "Vases and Tragic Drama". In Rutter, N.K.; Sparkes, B.A. (reds.). Word and Image in Ancient Greece. University of Edinburgh. pp. 121–123. ISBN 978-0-7486-1405-9.

Eksterne skakels[wysig | wysig bron]